Spierwit Sneeu, Soms
In my klein kindertjie drome het ek altyd aan sneeu gedink as iets wat in ‘n sprokiesland hoort. Waar prinsesse deur prinse gered word, waar drake vuur blaas en diere kan praat. Ek het nie ‘n winterwonderland raak geloop toe ek my voete weer op Italiaanse bodem geplaas het soos wat ek voorspel het nie. Reen en mis ja, maar geen berge en dakke met wit komberse nie. So ek het opgewonde gewag vir die dag waarna ek al so lank uitsien. En wonder bo wonder het die dag aangebreek met ‘n onverwagse verrassing.
Oppad terug van ‘n uitstappie in die dorp, het ek en my vriend Cristian in beide sneeu en reën geloop! Dit was baie donker en jy kon slegs in die straatligte die wit vlokkies sien, maar dit was daar. En dit het my nostalgies laat dink aan die kinderstorie waar Jakkels met Wolf se vrou trou. Ek het die res van die aand vir Cristian probeer verduidelik dat almal so hartseer was omdat Jakkels Wolf se vrou gesteel het, dat dit begin reën het terwyl die son skyn. Nodeloos om te sê, ek het geen idee of hy agter die kruks van die saak gekom het nie, maar die sneeu en reën het my oortuig dat daar iewers iets aan die gebeur is… iets wat ons nie kan sien nie.
Die volgende oggend het my gegroet met wit komberse oor alles en vir twee dae lank het die sneeu neer gesif na my voete. Dit is ‘n snaakse ding, sneeu. Soms val dit sonder dat jy dit kan sien, ander kere is daar vlokkies so groot soos R5 muntstukke. Dan lyk dit asof die sneeu klein veertjies is, van Jan en die Boontjie rank se goue gans wat haar donsies uitskut. Hierdie veertjies sweef in die lugstrome asof hulle die wêreld se tyd het om by hul eindbestemming te kom. En dan net 10 minute later lyk dit soos klein wit diamandjies wat uit wolke gegooi word en iewers in my agterkop sing ek noodgedwonge saam met Rihanna – Like diamonds in the sky… Soms is dit nogal skrikwekkend as hierdie –harder as wat hulle lyk- diamand sneeu vlokkies in jou gesig in waai soos geen reënbui dit durf waag nie. Dit laat my wonder hoe verskriklik erg ‘n regte sneeu storm moet wees. En ja, as jy teen hierdie tyd gewonder het, ek het dit alles ondervind in die twee dae wat dit gesneeu het.
Daar is ook ‘n ander kant, die kant waarvan al die Italianers my vertel, waaroor hulle my waarsku van busse wat laat kom en paaie wat nie meer veilig is nie. Dit het my die eerste middag oppad huis toe getref toe my gewone 10 minute stappie in ‘n 30 minute hindernisbaan verander het. Probeer jouself modder vuil slush puppy voorstel wat tot by jou enkels kom met geen droë grond om op te loop nie. Baie koue voete en ander ledemate soos jou neus en wange en vingers. Ek is nou nog verward oor die bekende frase: “Dashing through the snow…”.
Maar teen die einde van die dag mis ek my wit komberse as ek nou by my venster uit kyk. En ek hoop dat my uitstappie na Torino, ‘n noordelike stad in Italië, hierdie naweek weer diamandjies of veertjies sal op lewer. Dan, as ek veillig terug in my koshuis kamer is, sal ek julle alles daarvan vertel.